Grace and Truth

This website is under construction !

Search in "Afrikaans":
Home -- Afrikaans -- 09. Comparisons -- 4.06 Fourth Commandment: Remember the Sabbath Day, to Keep it Holy
This page in: -- AFRIKAANS -- Arabic? -- Armenian? -- Azeri? -- Bulgarian? -- Cebuano? -- Chinese -- English -- Farsi? -- French -- German -- Gujarati? -- Hebrew -- Indonesian -- Norwegian? -- Polish? -- Russian -- Serbian? -- Spanish? -- Tamil -- Turkish? -- Uzbek -- Yiddish? -- Yoruba

Next part -- Next part

09. VERGELYKINGS TUSSEN ISLAM EN DIE CHRISTELIKE GELOOF
Vergelykings 4 - Die Tien Gebooie

4.06 -- VIERDE GEBOD: ONTHOU DIE SABBAT DAG, HOU DIT HEILIG



"Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie-jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig." (Eksodus 20:8-11)


4.06.1 - Die Dag van Rus om die Skepper te Loof

Vir die Jode is die Sabbat een van die tekens van die verbond met God. Hierdie dag wat vir aanbidding vasgestel is, het die volk van God in die Ou Testament onderskei van ander nasies. Tot vandag toe heilig die mense van die ou verbond hierdie laaste dag van die week deur nie te werk soos op ander dae nie. Hulle steek nie vure aan of gaan op lang reise nie. Hulle dra nuwe klere wat vir feesdae gehou word. Die Sabbat is bedoel vir blydskap soos wat mense in aanbidding bymekaar kom om sekere gedeeltes in die Torah te lees en dit te bespreek.

Op die dag van die Here behoort gelowiges meer tyd met God te spandeer as op ander dae. Hulle behoort op Hom te fokus in denke en in hart, want Hy is hul Skepper, Verlosser en Trooster. Ons behoort ‘n gewoonte te maak van Bybellees, na goeie preke te luister en deelname aan gebed met liedere van lof wat ons sal versterk en vertroos te midde van die vermoeidheid in die woestynreis van elke dag. Dis egter nie die mens of sy rus wat die fokus van hierdie dag is nie, maar die Here self. Op hierdie manier word die Sabbat die dag van die Here. Hy het hierdie dag opsy gesit, dit geheilig en dit geseën. Die dag van die Here is ‘n wonderlike gawe van God aan Sy skepping.

Om die Sabbat te Heilig beteken dat ons die Skepper loof wat die hemel en aarde skape het, al die plante en diere daarop. Sy skepping het ‘n hoogtepunt bereik in die skepping van die mens na die beeld van God. In hierdie skepping is elke kreatuur ‘n wonderwerk wat deur wysheid en mag op unieke manier gemaak is. Wetenskaplikes het nog maar min van die misteries van die menslike liggaam, sy vermoëns en die verhewendheid van sy gees, ontsyfer. Hoe wonderlik is die werke van God! As die skepping so wonderlik is, hoeveel te meer die Skepper daarvan! Menslike taal kan nie Sy grootheid, heerlikheid en almag ten volle weergee nie. Hy verdien lof en aanbidding van al Sy skepsels.

Toe God die doel van Sy skepping bewerkstellig het, het Hy gerus. Hy was nie moeg van sy werk nie, want die Almagtige raak nie moeg of slaap nie, Hy was eenvoudig tevrede met Sy werk. Hy was ingenome met al die wonderlike dinge wat Hy geskep het en het dit goed gevind. Dit is gepas om God elke dag te loof, veral op die dag van die Here, vir al die ondeurgrondelike wonders van Sy skepping.


4.06.2 - Die Noodsaaklikheid van Rus op die Sabbat

Gedurende die Sabbatdag het ons die voorreg om in die hemelse rus van God te deel wat Hy vir ons ontwerp het. Hy gee vir ons geleentheid vir stilte en aanbidding. Hierdie innerlike en uiterlike stilte voor die Here is die sleutel tot ons welsyn. Niemand kan hierdie gebod oortree sonder om gestraf te word nie. Nasies soos die voormalige Sowjet Unie of groot maatskappye in die Weste het gemoedsrus verloor in hul pogings om weg te doen met die dag van die Here. Diegene wat hierdie dag ignoreer en voortjaag met hul lewens, verstaan nie die heerlikheid van die Here in Sy skepping nie. Hulle het die vermoë verloor om diep na te dink en gevolglik ly al hulle werk daaronder in die res van die week. Almal, selfs diere, het nodig om te rus, en ons kan nie ons kragte herwin voordat ons eers voor die Here stil geword het nie. Ons moenie die gebod om die Sabbat heilig te hou verontagsaam nie. Ons sien dat hierdie gebod nie van ‘n 40 uur werksweek praat nie, maar oor ses dae waarin ons moet werk. Die sewende dag is vir die Here. Die Bybel leer dat ‘n ydele lewe tot allerlei euwels lei, maar dat daaglikse werk tot ‘n mens se voordeel is.

Jesus het ons aangemoedig om elke dan en wan te stop en oor die blomme van die veld na te dink en hoe hulle groei. Het jy al opgelet hoe lank dit neem vir ‘n bloeisel om te bot, vir die blare om te groei, totdat dit vrug dra? Ons moet die natuur leer ken, want dan sal ons iets sien van die wyse Skepper en Sy Vaderlike goedheid. Jesus het daarop gewys dat ons die prag van ‘n kleurryke blom met die deftige kleredrag van ryk mense kan vergelyk sodat ons sal besef dat nie eers konings en prinse so mooi en deftig lyk soos sommige van die blomme van die veld wat vinnig verlep en doodgaan nie. Die mens self is die mooiste van al God se aardse skepsels en ons reflekteer slegs ‘n klein bietjie van Sy glorie. As ons maar net die manier waarop ons leef kan verander, ophou jaag en tyd kan maak om te reflekteer! As ons sal, dan sal ons aangespoor word deur die prag van die skepping om God te loof en te dank. Ongelukkig is daar walglike televisieprogramme wat geweld en pornografie uitbeeld terwyl God ons oë wil oopmaak in al die seisoene van die jaar om die wonders van wat Hy geskep het te sien.

Wanneer die Here beveel dat ons die Sabbat sal onderhou, dan eis Hy dat ons hierdie dag sal afsonder sodat ons dit sal gebruik om te leer hoe om voor Hom te leef. Om die dag van die Here te heilig is nie net om te rus of die Woord van die Here te hoor of te lees nie, maar dis ook vir ons om met ons hele hart na God te draai, sodat Hy ons kan verander en met sy goedheid kan vul. Hy is heilig en Hy wil hê dat ons ook heilig sal wees. Laat ons in die lig van Sy liefde voortgaan en sy heerlikheid reflekteer, want daar is geen herstel sonder stilte nie.


4.06.3 - Om die Sabbat Mis te Verstaan

Die Sabbat het die mense van die Ou Testament weerhou van verval en hulle afgesonder van die baie gode wat deur ander nasies rondom hulle aanbid is. Die samekoms op die dag van die Here het hulle ook voorberei vir die koms van die Christus, die Redder van die wêreld. Die Sabbat opsigself is egter nie by magte om verandering, beskerming of herstel vir gelowiges te bring nie. Almal is swak, boos en onbekwaam voor God. Geen wet kan die mensdom verander nie, ook die Sabbat kan die mens nie vrymaak van sy sonde nie. Dit kan hom egter keer om in ateïsme te eindig. In die nuwe verbond vier ons nie die Sabbat om die genade van God te bekom nie, maar omdat ons dankbaar is dat Hy ons geskep het. Hy het mens geword, in Christus na ons gekom en vir ons omgegee meer as ‘n vader vir sy kinders. Vir hierdie rede het ons Hom lief en eer ons Hom. Om die wet te onderhou kan ons nie van ons sonde red nie, maar die genade van God is die misterie van ons verlossing en wedergeboorte. Wie deur die wet regverdig wil word, sal deur die wet veroordeel word. As jy egter die hand van Jesus vat wat na jou uitreik, dan sal Hy jou lei en beskerm teen alle veroordeling.

Op die sewende dag het God gerus en na Sy werk gekyk. Hy het gesien dat dit baie mooi is. God se heilige rus is egter beëindig toe die mens ongehoorsaam was en in sonde geval het. God het opgehou rus en werk sedertdien om sy verlore skepsels te red. Hy verklaar, "jy het My oorlas aangedoen met jou sondes" (Jesaja 43:24). Jesus bevestig dit: "My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook" (Johannes 5:17). God is baie besorg oor ons en die sonde wat ons doen, maar ons dank God dat daar verlossing vir alle sondaars is deur die plaasvervangende offer van Christus. Wie in die Lam van God glo sal nie onder die oordeel van die wet kom nie, maar sal geregverdig word deur die bloed van Jesus. Jesus het gesterf en is net voor die Sabbat begrawe. Hy het gerus op die dag van God se rus, in die graf van ‘n ryk man. Hy het op die eerste dag van die week uit die dood opgestaan en op hierdie manier die eise van die Sabbatdag vervul. Deur Sy opstanding het Hy ‘n nuwe dag daargestel wat ‘n nuwe skepping simboliseer. Hierdie nuwe skepping floreer op die genade van God en op die krag van die Heilige Gees, nie op die oordeel van die wet nie.


4.06.4 - Het Christene die Reg om Sondag te Vier Eerder as Saterdag?

Dikwels beskuldig die Jode en Sewedaagse Adventiste Christene daarvan dat hulle die vierde gebod oortree. Hulle voorspel dat die oordeel van God op die volgelinge van Christus sal val omdat hulle die Sondag eerder as die Saterdag as die dag van rus onderhou. Jesus het egter gesê dat Hy die Here van die Sabbat is. Die Seun van die mens het al die eise van die Sabbat ter wille van ons vervul en voltrek. Jesus het nie ‘n nuwe wet daargestel om ‘n bepaalde dag te heilig nie. Hy het sy volgelinge gered en hulle geheilig. Ons behoort God nie net op die Sabbatdag en tydens sekere feesdae te aanbid nie, maar elke dag. Dis waarom Jesus persone heilig en nie dae nie. "En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom" (Kolossense 3:17). Alles wat ons doen onder leiding van die Heilige Gees is ‘n tipe aanbidding tot God. Een dag is nie minder waardevol as ander nie. Jesus het ons geregverdig deur sy bloed en ons deur die Heilige Gees vernuwe. Die rede waarom Hy na die aarde gekom het, was om te bewerkstellig wat die Sabbat nie kon doen nie: om nuwe mense te skep, om bose sondaars in geheiligde volgelinge te verander en selfsugtige mense in dienaars te verander.

Jesus het ‘n omwenteling in elke aspek van ons geestelike lewens gebring. Dit is waarom die eerste Christene die Sondag gekies het, die dag waarop Jesus opgestaan het, om die nuwe verbond met Sy nuwe skepping te vier. Jesus wou ook hê dat Sy volgeling sou rus en mediteer oor die voorreg om deel te wees van Sy nuwe skepping. Hy het ons nie beveel om die Sondag te onderhou nie en ons ook nie verbied om die Sabbat te onderhou nie. Hy het nie bedoel dat ons ingeperk sou word deur sekere dae en feeste nie, maar Hy het gekom om sondaars te red. Die opstanding van Jesus het die begin van ‘n nuwe era ingelyf waarin ons nie meer onder die aanklag van die wet lewe nie, maar deur die reddende genade van ons Here. Dit beteken nie dat Christene wettelose mense is nie. Die Gees van Christus woon in ons en Hy self is die wet van liefde en gee ons terselfdertyd die krag om dit te vervul. Die Sabbat bly die simbool van die ou verbond, maar die Sondag is die teken van Christus se oorwinning wat op die nuwe verbond dui.

Sommige gelowiges in Islamitiese lande kan nie op ‘n Sondag of Sabbat rus nie. Daarom kom hulle op ‘n Vrydag bymekaar, wetend dat die Here self by hulle is soos Hy belowe het: "Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde" (Matteus 18:20). Jesus het nie bedoel om sekere dae vir aanbidding vas te stel nie, maar eerder om gelowiges oral te heilig.


4.06.5 - Viering van Sondag

Hoe kan Christene die dag van die Here heilig hou? Liefde moedig hulle aan om op Sondae bymekaar te kom vir aanbidding en om na die Woord te luister, om Hom te loof in die gemeenskap van die heiliges. Ons kinders, gaste, kollegas, selfs die diere in ons stalle, behoort deel te hê aan ‘n dag van rus en aan die Goddelike vreugde van die opstanding wat elke Sondag gedenk word. Die basis vir die Christen se vreugde is dieper as die van die Jode. Jesus het gesê: "Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word" (Johannes 15:11; 17:13). Ook Paulus het geskryf: "Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!" (Filippense 4:4). "Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede..." (Galasiërs 5:22). Sulke gedeeltes dui op die werklike gees van die Sondag. Dit wys egter ook op die gees van ons werk gedurende die res van die week; dit wys ons hoe ons as ‘n Christelike familie behoort te leef.

Behoort ons op ‘n Sondag te werk? Soos ander mense is Christene normale mense. Hulle het liggame wat moeg word, dit is waarom hulle moet rus. Hulle is gewone kreature en tog is hulle ook kinders van God. Hulle leef fisies op aarde en het geestelike plek in die hemel saam met Christus. Hulle ontken nie die dag van rus voor die Here nie. Sondag was nie oorspronklik bedoel om slaap in te haal nie, maar om God die Vader te verheerlik en te loof. Hierdie dag behoort aan God en ons is nie veronderstel om onnodige werk te doen nie. Tog behoort ons nie weg te skram van liefdeswerk of verpligtinge wat ander van gevaar kan red nie. Ons geregtigheid is nie gebaseer op ‘n vervulling van die wet nie, maar op die versoenende dood van Christus wat die konsep van opoffering in ons harte geplant het. Om na publieke aanbiddingsplekke en ander byeenkomste saam met Christene op Sondae te gaan, is ‘n voorreg wat vir Christene gereserveer is. Dit is egter nie genoeg dat Christene net op Sondae met geestelike voedsel gevoed word nie. Dit moet daagliks gebeur anders sal geloof, hoop en liefde kwyn. Sondae gee ons die geleentheid om saam met ander te sing, as ‘n groep te bid en idees te deel en ‘n Christelike eenheid sigbaar te maak. Alle gelowiges saam is die geestelike liggaam van Christus. Individuele gelowiges is nie die fokus van die nuwe skepping nie, dis eerder die gemeenskap van gelowiges wat op Sondae gesien kan word.

Geseënd is hulle wat siekes, gestremdes en armes op ‘n Sondag besoek. Sulke mense is nie begaan oor hoeveel petrol hulle uitry nie. Die Gees van die Here lei ons uit ons kerkgeboue opsoek na hulle wat dood is in sonde. Ons is geroep hom hulle na bekering in Christus te lei, sodat hulle mag opstaan uit hul wanhoop en hardvogtigheid. Dit is onverskoonbaar om nie teenoor ongelowiges te getuig van Christus nie. Ons word geroep tot diens aan behoeftige individue en groepe op die dag van die Here.

Sondag bied genoeg tyd om aan die Here dank te betuig, ons eie tekortkominge te erken en vir die behoeftes van ander voorbidding te doen. As die Here ons kinders gee, dan moet ons aansienlike tyd saam met hulle spandeer en opbouende, vreugdevolle Christelike liedere saam met hulle sing. Laat ons Jesus vra hoe om die eerste drie gebedsversoeke van die Onse Vader na te kom, veral op Sondae.

As ons die Sondag onderhou sal ons geseënd wees. Jesus het baie seëninge voorberei vir elkeen wat met die gees van Christus vervul wil wees. Dis dieselfde Christus wat op ‘n Sondag uit die dood opgestaan het.


4.06.6 - Ontheiliging van die Sondag

Dit is tragies dat meer sonde gepleeg word oor naweke as op enige ander dae. Op Sondae besoedel motors die platteland. Televisiestasies wy slegs ‘n kort tyd aan die Woord van God terwyl daar baie pornografie, gruwelfilms en okkultiese programme gewys word. Op Sondae werk sommige mense by die huis en in die tuin wanneer hulle dit op ander dae van die week kon gedoen het. In die Ou Testament is mense wat gevang is dat hulle op die dag van rus werk, tot die dood veroordeel. As ons al die sonde kon sien wat op naweke gedoen word, in die publiek en in privaatheid in slegs een dorp, dan sou dit ons harte breek. Slegs God in Sy liefde het langsame geduld vir sondaars.

Het jy vergeet wat die Here sê van die mens wat hierdie dag onteer? As ons Eksodus 31:14-17 lees dan besef ons hoe belangrik dit vir ons is om voor die Here stil te word (sien ook Numeri 15:32-36 om die noodsaaklikheid te verstaan om die dag van die Here te onderhou). Miskien moet ons ons leefstyl verander en byvoorbeeld ons studente te vra om nie hul huiswerk op ‘n Sondag te doen nie. Die Here dreig om die stad of dorp te verbrand wat nie die Sabbat as ‘n dag van rus en aanbidding onderhou nie (Jeremia 17:22). Ons moet hierdie waarskuwing nie ligtelik opneem nie. Die Bybel sê: "Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai" (Galasiërs 6:7). Niemand oortree die gebooie van God en kom daarmee weg nie.

As Jesus nie aan die kruis gesterf het en die straf vir ons sonde gedra het nie, dan sou ons geen hoop gehad het nie. Sy dood is egter nie ‘n verskoning om die dag van die Here te onteer nie. Jesus en Sy dissipels het die Sabbat heilig gehou. Hy het geleef om die Vader te verheerlik. Na Sy opstanding op die eerste dag van die week het Jesus aan Sy dissipels verskyn om die nuwe fees van Sy verbond met hulle te vier.


4.06.7 - ‘n Nuwe Insig oor die Wet

Om na te dink oor die verkeerde manier om die Sabbat te onderhou, is om die wet van God verkeerd uit te lê. Jesus was tot die dood veroordeel omdat Hy die siekes op die Sabbat gesond gemaak het en omdat Hy gesê het dat Hy die Seun van God is. Hy was vervolg deur die godsdienstige leiers van Sy tyd, wat in hul misplaaste ywer vir die Wet van Moses, hul vermoë tot liefde vir God en mense verloor het. Hulle was uiterlik op ‘n skynheilige manier geregtig, maar het hulle doof gehou vir die oproep na bekering. Hulle het hul harte verhard en was nie reg om hul denke te verander nie. Hulle het God die Vader, die Seun en die Heilige Gees verwerp. Hulle het nie omgegee vir die siekes op die Sabbat nie. Hul ywerige onderhouding van die wet op die Sabbat het in skynheiligheid verander. Geen wonder dat Jesus van hulle gesê het nie, "Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is" (Matteus 15:8,9).

In Sy stryd om hulle te leer hoe om die dag van die Here te heilig, het Jesus nie veel oor werk op hierdie dag gesê nie, maar die regte gesindheid voor God beklemtoon. Paulus het voortgegaan om hierdie begrip van die Wet in die gees van Christus te verkondig. Tog was hy vervloek en gestenig vir sy leer dat die nie-Joodse gelowiges vry was van die ou verbond. Hy het ons geleer dat ons vry is van die aanklag van die Wet, omdat ons vir die wet dood is deur die dood van Christus. Daarom het die Wet nie meer gesag oor ons nie. Die Heilige Gees het die nuwe opdrag van die liefde van Christus in ons geplaas. Die nuwe geestelike wet in ons harte heilig ons en spoor ons aan om die Drie-Enige God te loof in al ons denke, woorde en dade. Ons gaan nie langer gebuk onder die las van die Wet nie, hoewel dit bekering en geloof deur die krag van die Heilige Gees in ons meewerk. Ons moet onthou dat Christus nie dae heilig nie, maar mense! So leer ons die radikale verskil tussen die Nuwe Testament en die Ou Testament, deur ons begrip van die vierde gebod.


4.06.8 - Vrydag vir die Moslems

Moslems het gewys dat hulle nie die betekenis van die vierde gebod verstaan of dit nakom nie deur die Vrydag te verklaar as die dag vir godsdienstige samekoms. Mohammed het ‘n stap verder gegaan toe die Jode en Christene sy profeetskap en sy uitnodiging dat hulle Moslems word, verwerp het. Hy het nie saamgestem met die Joodse Sabbat of die Christene se Sondag nie. In sy poging om sy eie geloof te vestig het hy die opdrag van die Ou en Nuwe Testament verwerp en die Vrydag verklaar as die dag van samekoms vir Moslems. Daar is geen gronde hiervoor in die Skrif nie, dit het ook geen verbintenis met die plan van verlossing nie. Dit stem uit ‘n rebelle teen God en Sy Messias.

Moslems gaan terug na hulle werk direk na hul gebed op Vrydae. Die toesprake in die Moskees is dikwels polities van aard. Dis ook nie ongereeld dat dit gevolg word deur demonstrasies en die uitbreek van geweld en haat nie. Om ‘n sekere dag te heilig of om die gelowige self te heilig, is steeds grootliks onbekend aan Moslem-aanbidders. Allah is veronderstel om so groot te wees dat die aard van sy heiligheid onbekend is aan Moslems, behalwe sy naam. Dit wys waarom Islam ver onder die vlak van die ou verbond staan, sover dit die vierde gebod aangaan. Hulle het geen idee van verlossing en die nuwe skepping in die nuwe verbond nie.

Ons is egter dankbaar aan die Een wat uit die dood opgewek is, want Hy het wonderwerke op die Sabbat en ander dae verrig. Hy het op die eerste dag van die week opgestaan en ‘n nuwe betekenis aan daardie dag gegee. Mag elke Sondag wees soos die sonsopkoms van elke nuwe week wat skyn met die woorde van ons Here: "'n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het" (Johannes 13:34-35).

www.Grace-and-Truth.net

Page last modified on October 10, 2013, at 10:59 AM | powered by PmWiki (pmwiki-2.2.109)