Grace and Truth

This website is under construction !

Search in "Afrikaans":
Home -- Afrikaans -- 09. Comparisons -- 4.07 Fifth Commandment: Honor Your Father and Your Mother
This page in: -- AFRIKAANS -- Arabic? -- Armenian? -- Azeri? -- Bulgarian? -- Cebuano? -- Chinese -- English -- Farsi? -- French -- German -- Gujarati? -- Hebrew -- Indonesian -- Norwegian? -- Polish? -- Russian -- Serbian? -- Spanish? -- Tamil -- Turkish? -- Uzbek -- Yiddish? -- Yoruba

Next part -- Next part

09. VERGELYKINGS TUSSEN ISLAM EN DIE CHRISTELIKE GELOOF
Vergelykings 4 - Die Tien Gebooie

4.07 -- VYFDE GEBOD: EER JOU VADER EN JOU MOEDER



"Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die HERE jou God aan jou gee." (Eksodus 20:12)


4.07.1 - Die Gawe van God: Die Gesin

Die gesin is baie waardevol en een van die oorblyfsels van die paradys. God het die mens gemaak, manlik en vroulik, om Sy heerlikheid en liefde te reflekteer en sodat die mens op die aarde kon vermeerder. Die gesin is die kern van menslike lewe en die fondasie van alle kulture. Dit bied beskerming, sekuriteit en samehorigheid, en is dikwels baie sterker as enige nuwe ideologie.

Alle godsdienste stem oor die algemeen saam dat ouers geëer behoort te word. Die aannames van kommunisme, ‘n goddelose ideologie, wat hierdie status van ouers bevraagteken het, is strydig met die Skepper en Sy skepping, en met die norme van natuurlike en instinktiewe menslike gedrag. God beskerming die gesin deur die vyfde gebod. Ons kan God dank vir die instelling en bestaan van die gesin, en die verborge bande van liefde en samehorigheid.

In die vyfde gebod gee God die opdrag, nie net om die vader as voorsiener en hoof van die gesin te eer nie, maar ook die moeder en vroue in die algemeen. Soos die man is die vrou geroep om die beeld van God in haar lewe te reflekteer en deel sy die gesinsverantwoordelikheid in gelyke mate met haar man. Die Ou en Nuwe Testament is dit eens daaroor dat beide vader en moeder geëer moet word.

Die gebod om die gesin te koester en te eer is vanselfsprekend en natuurlik. Selfs in die diereryk volg die kleintjies hul moeders en sit beide geslagte voëls soms om die beurt op die eiers. Beide voed hul kleintjies tot hulle hulself kan voed. Daar is natuurlike bande en verhoudings wat so deur die Skepper bepaal is en wat niemand kan oortree sonder gevolge nie. Tog hoor ons vandag rebellerende stemme wat kinders se harte versoek en verhard: “Moenie na jou ouers luister of aan hulle onderdanig wees nie. Dink eerder vir jouself, vervul jouself en wees in aktiewe rebellie.” Die oë van sulke kinders is somber van ongehoorsaamheid, die vreugde daarin geblus. ‘n Basiese deel van hul harte is tragies verwoes.


4.07.2 - Ouers se Opoffering

Vaders en moeders het die voorreg om deel te neem aan die nuwe generasie. Elke kind wat gebore word is ‘n wonderwerk! Miskien is ‘n kind sonder die wil van hul ouers verwek, maar die ouers het steeds deelgeneem in God se skepping van daardie kind. Die Here het hulle geëer deur toe te laat dat die genetiese erfenis van generasies oorgedra word aan daardie kind binne in die moeder. Daarom behoort die mens voor die Skepper neer te buig in aanbidding en dankbaar te wees vir elke kind wat gebore word.

Ons moeders het ons vir nege maande gedra, amper 275 dae en nagte in haar baarmoeder. Ons was veilig en versorg. Ons het deel gehad aan haar vreugde en frustrasie, haar hartseer en moegheid. Miskien het ons moeders vir ons gebid voor ons geboorte. Die geboorteproses self het haar heelwat pyn en vrees besorg.

Ons vaders en moeders is dikwels met ons vir baie jare. Hulle sien ons liggame groei en reageer op ons vreugde en angs. Hulle mag God selfs dank vir ons bestaan en groei. As ons ouers onder die gesag van Jesus grootgeword het, dan het hulle ons sekerlik in die hande van ons hemelse Vader toevertrou. Dan het hulle ons Sy gebooie geleer en ons aangemoedig om in die Skepper en die Goeie Herder te glo. So sou hulle ons grootgemaak het, liefgehad het en geseën het, meer as wat ons besef. Hulle het dag en nag na ons omgesien, ons van voedsel en klere voorsien. Hulle het belanggestel in ons opvoeding en vriende. As ons siek was, dan het hulle besorg oor ons beddens gewaak. Hulle was verheug saam met ons en het saam met ons gehuil in ons smarte.


4.07.3 - Gesinsprobleme

Daar is so ‘n nou band tussen ouers en hul kinders sodat wederkerige liefde en vertroue voor die hand liggend is. Tog leef ons nie meer in die paradys nie. Geen kind is goed in homself nie en ouers is ook skuldig voor God. Daarom dat ouers en kinders deur die genade van God alleen leef en voortdurend afhanklik is van onderlinge vergifnis. Daar is geen ewigdurende vrede in ‘n gesin sonder vergifnis en geduld nie. Die herstel van vrede in die gesin kan nie kom sonder om sonde te erken en te bely nie, en om nederig om vergifnis te vra nie. Geseënd is die kinders wat in liefde en vergifnis deur hul ouers grootgemaak is.

Dit is nie die ouers alleen se keuse om hul kinders te lei in die regte geloof nie. Die Seun van God self roep alle kinders na Hom om geseën te word. Ouers behoort die natuur en integriteit van Jesus aan hul kinders te demonstreer, hulle lei om Sy gebooie na te kom en Sy beloftes in hul harte benadruk. Vaders en moeders is in gelyke mate verantwoordelik vir die geestelike opvoeding van hul kinders, maar hulle moet weet dat hulle nie hul eie geloof aan hul kinders kan oordra nie, kinders kan nie geforseer word om dit te aanvaar nie. Elke kind moet vir homself vir of teen God besluit. Dis nietemin goed vir kinders om te weet dat hul ouers se seën vir generasies sal duur.

Ouers behoort nie hul kinders te bederf of hulle grootmaak om lui te wees nie. Hulle moet ook nie van hulle dinge vra om te doen wat te moeilik vir hul ouderdom is nie. Kinders moet genoeg tyd hê om bloot kinders te wees! Skool en beroepsopleiding is belangrik, maar is minder belangrik wanneer kinders grootgemaak word. Belangriker is om kinders in die ontsag vir God groot te maak en hulle te help om hul Skepper lief te hê en hul gewetens, integriteit, eerlikheid, volharding en reinheid op te bou. Dit is belangrik dat ouers genoeg tyd met hul kinders sal spandeer en sal luister na hul vrae en probleme. Die belangrikste is dat ouers onophoudelik vir hul kinders bid om weergebore te word, om hul lewens saam met Jesus te spandeer.

Kinders sal hul ouers krities konfronteer op die ouderdom van puberteit en adolessensie. Sulke groei na onafhanklikheid is eenvoudig ‘n fase van ‘n groei na volwassenheid en moenie kwalik geneem word nie. As ouers hul kinders vroeg reeds aan die Drie-Enige God toevertrou het, dan kan hulle met hul kinders in geduld omgaan in daardie kritiese jare, sonder om hulle onnodig in te perk. Terselfdertyd moet tieners van die geleentheid gebruik maak om goeie boeke te lees, opregte vriende te maak en opbouende televisieprogramme te kies asook Christelike jeuggroepe met lewendige Bybelstudies. Om die ou maniere van doen op tieners te forseer, kweek rebellie, verhard hul harte en sluit die deure daarvan.

As ouers moet ons altyd Jesus se waarskuwing onthou: "maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat 'n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see" (Matteus 18:6). "Laat struikel" beteken nie reaksies van teenstand of woede nie, maar om hulle te mislei om te jok, te steel of hulle toe te laat om in ‘n sekere sin voort te gaan sonder straf. ‘n Geseënde opvoeding kom slegs deur die ontsag en liefde vir die Here.

In ons gesofistikeerde tyd van wetenskaplike vooruitgang lyk ouers dikwels “agterlik” vir hul kinders. In ‘n ontwikkelende land kan ouers soms nie lees of skryf nie. Dit gee goed opgevoede kinders nie die reg om trots te word en op hul ouers neer te kyk nie, dit sou disrespekvol, dom en naïef wees. Die vermoë om te lees en skryf wys nie hoe intelligent of waardevol ‘n persoon is nie. ‘n Hoë opvoeding verbeter nie die goedheid of heiligheid van ‘n student nie. Die ouers se gesag is nie gebaseer op hoeveel grade hulle verwerf het of hoeveel geld hulle kon spaar nie. Hul outoriteit lê in die wil van God en in hoe hulle intree vir hulle kinders deur gebed voor die troon van genade. Die Vaderskap van God het diepe liefde in die harte van ouers teweeg gebring. Die opoffering van Christus skep ‘n wil vir onvoorwaardelike diens en opoffering in ouers en kinders vir mekaar.


4.07.4 - Vervulling van die Vyfde Gebod

Hoe kan kinders hulle ouers eer? Ons gewetens herinner ons om hulle lief te hê en te eer, want hulle is die kosbaarste van alles wat ons ken en het op aarde. Dit beteken vertroue en gehoorsaamheid, om onsself te verloën, om nie aan bybedoelings toe te gee nie. ‘n Kind behoort nooit aan sy ouers ‘n hand te lig nie. ‘n Kind is ook nie die fokus van ‘n gesin nie, maar die Here alleen. Jesus het ons die sleutel tot ‘n gelukkige gesinslewe geleer: "net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as 'n losprys vir baie" (Matteus 20:28). Die Seun van God het ouers en kinders gemaan om hierdie beginsel in die daaglikse lewe van die gesin na te kom.

Is kinders se verantwoordelikheid vir hul ouers verby wanneer hulle hul eie gesinne begin het? Nee! Wanneer ouers oud en swak geword het, verstandelik en fisies, dan het hulle hul kinders se liefde en versorging meer as ooit nodig. Seuns en dogters kan ‘n sekere hoeveelheid van hul tyd aan hul ouers toewy net soos die ouers dit gedoen het in die opoffering wat hulle gemaak het met hul jong kinders. Geen versorgingstehuis of pensioen kan opmaak vir kinders wat opofferend van hul tyd, geld en moeite gee aan hul bejaarde ouers nie.

Die vyfde gebod is die eerste om ‘n duidelike belofte te maak wat God se verbondshart met ons beklemtoon. Hy wat met sorg na sy ouers omsien word ‘n lang lewe en oorvloedige seën op aarde belowe. Waar ouers se menswaardigheid bewaar word en waar ouers en kinders in die weë van God leef, daar sal hulle die vervulling van hierdie belofte saam beleef.

God verbied ons om ons ouers en mense in gesagsposisies te minag. Dit sluit in misbruik, ongeregtigheid, skynheiligheid en misleiding. Het Jesus nie gesê nie, "vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen" (Matthew 25:40)? Onthou jy die tragiese storie van Absolom se rebellie teen sy vader, Dawid? Dit eindig in die dood van die rebel (1 Samuel 15:1-12; 18:1-18).

Ons lees in Eksodus 21:15-17, "En hy wat sy vader of moeder slaan, moet sekerlik gedood word...En hy wat sy vader of moeder vloek, moet sekerlik gedood word." Spreuke 20:20 sê, "Wie sy vader of sy moeder vloek, sy lamp gaan in pikdonker dood." Deuteronomium 21:18-21 sê, "As iemand 'n koppige en wederstrewige seun het, wat nie luister na die stem van sy vader en na die stem van sy moeder nie, en hulle hom tugtig, maar hy na hulle nie luister nie...Dan moet al die manne van sy stad hom stenig, dat hy sterwe..." Wie teen sy ouers gerebelleer het sonder berou word ‘n gevaar vir almal. Die stabiliteit van die samelewing het op die liefde en gehoorsaamheid van die kinders gerus, selfs vandag nog!

God praat duidelik met kinders en waarsku ouers. Kinders behoort met sorg behandel te word, want God vertrou elke kind aan ouers toe. Hier word Jesus se belofte op ‘n ander manier vervul: "vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen" (Matteus 25:40). Die apostel Paulus waarsku ook daarteen om kinders te verbitter en te vermoei (Efesiërs 6:4; Kolossense 3:21). Ouers moenie te veel toegewend wees of nalatig wees nie, hulle moet ook nie wreed en hardkoppig wees nie. Hulle moenie vergeet dat kinders hul oorgeërfde eienskappe openbaar nie. Oorgeërfde swakheid is egter nie ‘n verskoning om aan sonde toe te gee nie, hoewel dit ouers nederig behoort te maak. Hierdie nederigheid bring ‘n sagte gees wat hul kinders lei om gepaslik op te tree. Daarom behoort ouers en kinders te bid en te vra dat Jesus hul voortdurend berou en ‘n vernuwing van hul denke sal skenk.


4.07.5 - Bekeerlinge van Islam en Hul Ouers

Daar is slegs een situasie waar kinders nie hul ouers moet gehoorsaam nie: wanneer hulle gevra word om iets teen die wil van God te doen. Die Bybel is duidelik: "Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense" (Handelinge 5:29). Vandag, in beide die Islamitiese en Joodse wêrelde, volg ‘n toenemende aantal jongmense nie meer die geloof van hul ouers nie. Hulle het vir Jesus ontmoet en Hom as persoonlike Verlosser aanvaar. Dit veroorsaak pynlike spanning, want hulle het radikale geestelike en morele verandering ervaar omdat die liefde van God in hul harte uitgestort is deur die Heilige Gees. Dit help hulle om hul ouers meer as ooit lief te hê. Hulle het baie wysheid nodig sodat hulle eerder kan konsentreer op hul goeie werke as om met hulle oor hulle geloof te praat. Geduld is ‘n deug en kinders behoort ernstig vir hul nie-Christen ouers te bid sodat hulle deur die genade sal verander. Hulle behoort hul ouers ook gereeld te besoek, want niemand het ons meer lief as ons ouers nie.

As ouers egter onversetlike weerstand bied teen die gees van Jesus en hul kinders forseer om hul Verlosser te verloën en dreig om hulle dood te maak volgens die leer van Islamitiese Sjaria, dan is dit tyd om afskeid te neem. Die antichristelike gees van sulke ouers behoort veroordeel en verwerp te word, hoewel die ouers steeds geëer en liefgehê moet word. Tog lei die woord van Jesus ons: "Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie" (Matteus 10:37). As ouers onregverdig en wreed is teenoor hul kinders vir godsdienstige redes, dan kan emosionele verbintenisse, kulturele beperkinge of finansiële afhanklikhede gebruik word om kinders se finale besluite te beïnvloed. Dit is waarom Jesus die opdrag gee om heeltemal afstand te doen van familielede wat die Evangelie teenstaan, anders word ons dalk ook weggelok van geloof. In sommige situasies is dit nodig vir totale skeiding met ouers vir ‘n tyd, ter wille van totale toewyding aan Jesus. Wanneer dit gebeur, dan maak dit beide ouers en kinders seer, tog is die liefde van God groter as die gevoelens van die mense naaste aan ons.

Gelowiges in ‘n kerk is geroep om hulself toe te wy om behoeftige bekeerlinge vinnig te help en hulself as broers en susters en vaders en moeders vir hulle aan te bied. Dit mag beteken om later met beroepsopleiding of akademiese studies te help, selfs met die huwelik. Net soos ouers se liefde nimmereindigend is, net so behoort die kerk se liefde vir ‘n nuwe bekeerling oneindig te wees, selfs al is daar ongepaste gedrag. Christus se liefde en geduld is die kriteria vir gelowiges wat die nuwe bekeerling aangeneem het.


4.07.6 - Gevolgtrekking

Liefde in die gesin behoort ‘n refleksie van God se liefde te wees. Die ewige God is ons Vader en Hy het ons geroep om in Jesus Christus vir altyd by Sy familie aan te sluit. Hy reinig ons met die bloed van Sy Seun om ons in gemeenskap met Hom te hou en maak ons lewend deur die krag van die Heilige Gees. As ons ouers verloor in ‘n ongeluk of teenspoedige omstandighede, dan moet ons nie moed verloor nie, maar saam met Dawid bely: "Want my vader en my moeder het my verlaat, maar die HERE sal my aanneem" (Psalm 27:10). Alle menslike liefde is beperk, maar ons God wek ons op met Sy onvoorwaardelike liefde en hou ons styf vas. Die storie van die verlore seun wys ons hoe die verlore seun aanvaar word en hoe die vader die trotse, vrome seun probeer oortuig om genade en liefde vir die geredde seun te hê. Die vader het hul beide liefgehad en sy bes probeer om hulle bymekaar te bring. Gemeenskap met God die Vader is die bron van vrede en kalmte in ons lewens. Soms gee God ons die voorreg om in die gemeenskap van die heiliges op aarde te leef. Daarom moet ons die Vader in die hemel dank vir ons aardse familie en om as lede van Sy hemelse familie geroep te wees.

www.Grace-and-Truth.net

Page last modified on October 10, 2013, at 11:02 AM | powered by PmWiki (pmwiki-2.2.109)