Grace and Truth

This website is under construction !

Search in "Afrikaans":
Home -- Afrikaans -- 09. Comparisons -- 4.03 First Commandment: You Shall Have no Other Gods Before Me
This page in: -- AFRIKAANS -- Arabic? -- Armenian? -- Azeri? -- Bulgarian? -- Cebuano? -- Chinese -- English -- Farsi? -- French -- German -- Gujarati? -- Hebrew -- Indonesian -- Norwegian? -- Polish? -- Russian -- Serbian? -- Spanish? -- Tamil -- Turkish? -- Uzbek -- Yiddish? -- Yoruba

Next part -- Next part

09. VERGELYKINGS TUSSEN ISLAM EN DIE CHRISTELIKE GELOOF
Vergelykings 4 - Die Tien Gebooie

4.03 -- EERSTE GEBOD: GEEN ANDER GODE



"Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie." (Eksodus 20:3)


4.03.1 - Die Aanbidding van Afgode Vandag

As ons in ‘n industriële land leef, dan sien ons bykans nooit mense wat afgode aanbid wat van hout, klip of goud gemaak is nie. Indien ons egter plekke soos Asië of Afrika besoek, dan sal ons een of ander tyd mense teëkom wat sulke beelde werklik en in vrees aanbid.

In die tydskrif van ‘n Indiese lugredery was daar ‘n afbeelding van Durga, die oorlogsgodin met haar ses arms wat enige aanvaller vernietig. Menslike kopbene is oral om Durga gestrooi. Sy’s dapper in oorlog, maar enigeen wat haar nader, sou deur die vuur wat uit haar mond geskroei word. Sy glimlag terwyl sy haar vyande doodmaak.

Daar is uitgekerfde beelde van olifante in Indië wat die god Ganahati verteenwoordig. Hindoes sal van tyd tot tyd blomme voor hulle neerlê. Tydens spesiale feeste versier blomkranse plastiek olifante van amper twee verdiepings hoog. Die skares vergesel hierdie afgode in die strate af totdat hulle in die rivier of see gegooi word in die hoop dat visvangs goed sal wees of dat die area nie deur die jaarlikse vloede verwoes sal word nie.

Gedurende ‘n spesiale fees word duisende koeie na tempels aangejaag om met heilige water besprinkel te word wat hulle gesond sou hou. Hul horings word met helder kleure geverf as teken van toewyding.

Indien ons die Ladakh-vallei anderkant die Himalajaberge sou besoek of na ‘n Boeddhistiese land sou reis, dan sou ‘n groot, glimlaggende en goue beeld van die Boeddha sien, met mense wat voor hom neerbuig in eerbetoning. ‘n Derde van die mensdom aanbid nog afgode en oortree dus die eerste gebod. Hierdie afgodsaanbidders glo in die krag van hierdie beelde en ook in reïnkarnasie. Groot getalle van mense in Afrika en Indonesië is steeds in geestelike gevangenskap deur sulke gebruike. Ander mense aanbid hul voorvaders. As hulle egter net die gesag van Jesus kon ervaar, dan sou hulle bevry kon word van enige vrees vir die geeste en van afgodsdiens en waarsêery. Dan sou hulle nie langer enige towerspreuke nodig hê nie en sou hulle die dooie afgode verwerp omdat hulle beskerm sou wees van enige invloed van bose geeste.

Ons hemelse Vader verlos ons van alle vorme van vrees, selfs van die mag van die djin en bevry ons van die invloed van toordery. Die bloed van Jesus Christus, die Seun van God, is die finale beskerming teen alle bose magte. Wat ook al geskryf is of uitgespreek is as vervloeking in die naam van die magte van die duisternis teen hulle wat die Here Jesus volg, sal verbreek word in die naam van ons Here. Hy is die magtige vesting vir almal wat na hom draai.


4.03.2 - Moderne Afgode

Ongelukkig het ‘n nuwe vorm van afgodsdiens na die industriële lande deurgedring, waar beelde vervang is met motors, televisie en glanspersoonlikhede. Mense is meer afhanklik van moderne tegnologie as van die lewende God. Die motor het ‘n afgod geword vir die moderne mens; hulle betree dit en gee hulle oor aan die krag daarvan. Die Israeliete het rondom die goue kalf gedans; die moderne mens wentel om die nuutste model motor. Die eienaar spaar en maak opofferings daarvoor; dit word skoongemaak en gepoleer. Daar word meer na die enjin se gedreun geluister as na ander mense. ‘n Aansienlike hoeveelheid tyd en geld word daarop gespandeer – meer as aan behoeftiges. Het die mens ‘n slaaf geword van moderne tegnologie? Groot skares mense stroom na stadions vir motorwedrenne of atletiek byeenkomste. Min mense is egter in die kerk vir publieke aanbidding.

Jesus waarsku ons spesifiek teen die liefde vir geld. Hy het gesê, "Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag." "Geldgierigheid is 'n wortel van alle euwels." Sosialisme en kapitalisme het dieselfde doel; kapitaliste is ryk, maar sosialiste wil ryk word deur manipulasie en geweld. Mense dans ook vandag om die goue kalf. Moenie mislei word nie, God kan nie bespot word nie. Niemand kan God en geld dien nie. Jesus was arm maar vergenoegd. Hy waarsku sy volgeling teen rykdom, "Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke" (1 Timoteus 6:9; Matteus 6:24; 19:24).

Die dominante afgod wat in alle kulture en godsdienste heers is ons eie ego’s. Elke persoon is geneig om te dink dat hulle die beste, mooiste of belangrikste van almal is, al dink hulle nie noodwendig doelbewus so daaraan nie. Elkeen dink hulle is die middelpunt van die wêreld. ‘n Drie-jarige was gevra, “Wat wil jy eendag wees?” “’n Standbeeld!” was haar antwoord. “Hoekom?” “Want almal moet dan na my opkyk.” Trots en selfsug vloei in ons bloed. Dit is die teenoorgestelde van die nederige aard van Christus. Jesus het gesê, "Hoe kan julle glo wat van mekaar eer aanneem, en die eer wat van die enige God kom, soek julle nie?" "Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig." "Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind." "En sou jy vir jou groot dinge soek? Soek dit nie" (Johannes 5:44; Matteus 11:29-30; 16:25; Jeremia 45:5).


4.03.3 - Oorwinning van Afgodsdiens

Waarom is die verbod op die aanbidding van ander gode die eerste gebod? Die feit is daar is net een God. Al die roem in hierdie wêreld is tydelik. God alleen leef vir altyd. Hy het ons geskep, so aan Hom behoort lof en eer. Hy is die middelpunt van die heelal. Ons selfsug moet elke dag gebreek word totdat ons bekeer en God met blydskap dien. Ons moet onsself tot God se beskikking stel. Nie ons bankbalans, ons gesondheid, of ons talente behoort die basis van ons lewens te wees nie.

Abraham het vir Isak liefgehad, sy wetlike erfgenaam en langverwagte seun. Hy was so gepreokkupeer met sy seun dat hy belangriker begin word het as God. Toe het God sy dienaar getoets en hom beveel om sy geliefde seun as ‘n brandoffer te bring. Abraham was bereid om te doen wat onmoontlik gelyk het, om sy seun te offer en aan God alleen die eer te bring. Tog verhinder God vir Abraham op die laaste minuut om die kind van Sy belofte dood te maak en ‘n ram was in sy plek geoffer. In hierdie toestand van innerlike onrus was God verheerlik toe Abraham gereed was om afstand te doen van sy eie seun. Sodoende het hy gewys dat hy die Here meer liefgehad het as sy eie seun.

Ons moet onsself van tyd tot tyd ondersoek vir groot of klein afgode wat tussen ons en die Here mag staan. Dit mag dinge wees soos boeke, juwele, skilderye, herinneringe, stokperdjies, gewoontes, geld, huise en ander dinge. Selfs ander mense kan soms ons harte in beslag neem.

Die versoeking van afgodsdiens is te sien in hoe mense hul leiers vergoddelik. Groot groepe mense se lojaliteit is deur Napoleon, Ataturk, Hitler, Nasser, Khomeini en ander verower. Tog is hierdie mense se boeke en nagedagtenis dikwels verbrand en vernietig kort na hul dood. Die profeet Jeremia waarsku teen enige versotheid met mense of afhanklikheid van mensehulp. "Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak" (Jeremia 17:5).

Mense verafgod filmsterre en sporthelde. Mense word betower deur musiekkonserte en verander in histeriese massas by stadions. Ons moet versigtig wees. Ons sê nie om ander te dien en te respekteer is sonde nie, maar dit is geestelike verraad om mense lief te hê of te vertrou, meer as vir God. Is God nie aan ons verbind in ‘n ewige verbond nie? Geen wonder dat Christus na mense verwys as "‘n slegte en owerspelige geslag" nie; hulle het God nie lief met hulle hele hart nie, respekteer en vertrou Hom nie heeltemal nie.

Afgodsdiens neem verskeie vorms aan vandag; daar is ‘n leegte wat veroorsaak word deur ‘n wegdryf van God. Die Here is ‘n jaloerse God en Hy alleen wil in beheer wees van ons harte. Hy is nie tevrede met slegs ‘n deel of selfs die meeste van ons liefde en gehoorsaamheid nie. Hy wil ewig en volkome in besit wees van ons. Daarom moet die ou en moderne afgode van ons lewens verdwyn en moet ons ons verbintenis tot ons hemelse Vader opnuut bevestig. Vra jouself wat die afgode in jou lewe is en wat jy moet doen om hulle eens en vir altyd te vernietig.


4.03.4 - Is die Christelike Geloof Teenstrydig met die Eerste Gebod?

Jode en Moslems kan met die Christelike interpretasie van die Tien Gebooie tot op hierdie punt saamstem. Tog beskuldig hulle Christene daarvan dat hulle die eerste gebod geweld aandoen deur hul belydenis. “Julle Christene is ongelowig,” word geargumenteer, “want julle oortree die eerste en grootste gebod. Julle laster teen God deur aan te voer dat daar drie gode is, en dat een van hulle aan die kruis gesterf het.” Jode en Moslems beskuldig Christene van godslastering omdat hulle in die eenheid van die Drie-Eenheid glo.

Hoe het Jesus self op so ‘n aanklag gereageer? Jesus het sulke aanvalle van halfhartige mense daagliks ervaar. Jesus het die eenheid van God baie duidelik gemaak: "Ek en die Vader is een" (Johannes 10:30). Nooit het Hy gesê “Ek en die Vader is twee” nie, maar een! Later het Hy gesê, "Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My." Voor hy gearresteer is het Hy vir sy volgeling gebid, "sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is" (Johannes 17:22). Hierdie woorde getuig van die eenheid van die Drie-Eenheid, Jesus getuig van sy perfekte eenheid met die Vader. Dit is nie ‘n wiskundige waarheid nie, maar ‘n geestelike waarheid. "Niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees" (1 Korintiërs 12:3). As ons nie oop is vir die gees van God nie, dan kan ons nie geestelike realiteite verstaan nie.

Jesus het gesê, "As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak." (Johannes 14:23). Jesus het Sy volgelinge belowe dat die Heilige Gees in hulle sal woon. Terselfdertyd het Hy hulle verseker van sy eenheid met Sy hemelse Vader en dat Hulle albei in die harte van Hul volgelinge sal woon.

Christene glo nie in drie verskillende gode nie, maar in een God wat Homself openbaar as die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Deur die eenheid van die Drie-Eenheid te bely is nie om die eerste gebod te breek nie, maar eerder om dit te vervul. Die Gees van God is in ons harte uitgestort weens ons versoening met God in die dood van Jesus Christus. Die getroue Gees moedig ons aan om God ons Vader te noem en Sy naam te heilig. Ons glo net soveel in Jesus en het Hom met ons hele hart lief omdat "die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is" (Romeine 5:5). Ons besef dat die eenheid van die Drie-Eenheid verborge is vir enigiemand wat nie deur die Heilige Gees weergebore is nie en wat nie na hierdie wonderlike waarheid soek nie.

Die Koran val eintlik nie die Drie-Eenheid aan waarin Christene glo nie. Hulle val ‘n sektariese drie-eenheid aan wat alle Christelike kerke verwerp. Die Koran bestry die drie-eenheid van die vader, moeder en die seun (Soera al-Maida 5:116). Die Koran verwerp ook die geloof dat God, die seun van Maria is, genaamd Jesus (Soera al-Maida 5:17,72) of slegs die derde van drie (Soera al-Maida 5:73). Die Bybel wys egter dat die Drie-Eenheid van God verstaan moet word as ‘n inklusiewe eenheid, ‘n ewige eenheid, die Drie-Eenheid van die Vader wat deur Sy Woord spreek en deur Sy Gees werk. Christene verwerp die biologiese drie-eenheid van vader, moeder en seun asook die aanspraak dat slegs Christus God is, die seun van Maria. Christene bely God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees as die een en enigste God.


4.03.5. Wat sê die Ou Testament van die Drie-Eenheid?

Die Ou Testament bevat ‘n paar noemenswaardige verwysings na die eenheid van God in die Drie-Eenheid. Selfs nie die Koran ontken dit nie.

In Psalm 2:7,12 lees ons van God se openbaring oor Jesus ‘n duisend jaar voor Sy geboorte, "U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer." Hy waarsku ook: "Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie."

Jesaja 7:14 sê, 700 jaar voor die geboorte van Christus, "Daarom sal die HERE self aan julle 'n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar en hom Immánuel [d.i., God is met ons] noem."

Jesaja 9:6 gee hierdie groot belofte: "Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors." Hierdie woorde in die Ou Testament getuig van die Goddelikheid van Jesus en Sy eenheid met die Vader.

Volgens 2 Samuel 7:12-14, is dit aan Koning Dawid belowe dat een van sy seuns “uit jou liggaam sal voortkom", ook terselfdertyd dat Hy die Seun van God sal wees. Sedertdien is ‘n ander naam vir die Messias of Seun van Dawid, die Seun van God.

In Psalm 110:1 lees ons, "Die HERE het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak 'n voetbank vir u voete." Is daar sprake van twee Here? Nooit! Hierdie verse wys op die perfekte eenheid tussen God die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Van die begin af het God in die meervoud gespreek: "Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis" (Genesis 1:26).

Dit alles wys ons dat die getuienis oor die eenheid van die Drie-Eenheid nie ‘n Christelike fabrisering is nie. Dit is eerder ‘n waarheid wat God ‘n duidend jaar voor die geboorte van Christus openbaar het. Wie kan teen die openbaring van God staan?


4.03.6 - Die Koran se Verwysing na die Goddelikheid van Christus

Nie net die Pentateug, die Psalms en die profete getuig van die eenheid van God die Vader, die Seun en die Heilige Gees nie. Ook in die Koran is daar verse wat hiervan getuig. As elke Moslem die Koran met ‘n oop gemoed sou lees, dan sou hulle oortuig geraak het deur die verse wat handel oor die maagd Maria en die geboorte van Christus. Jesus was gebore as die Woord van Allah sonder enige menslike ingryping. Allah het Sy Gees in Maria geblaas vir Jesus om gebore te word (Soeras al-Anbiya 21:91 en al-Tahrim 66:12).

Soeras Al Imran 3:45, al-Nisa 4:171 en Maryam 19:43 stel spesifiek dat Jesus die Woord van Allah geïnkarneer is en ‘n gees van Hom is. Hierdie verse is die Islamitiese eggo van die Evangelie volgens Johannes: "En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon-en ons het sy heerlikheid aanskou" (Johannes 1:14).

In Soeras al-Baqara 2:87,352 en al-Maida 5:110, lees ons dat Christus deur die Heilige Gees versterk is sodat Hy die vorm van ‘n voël uit klei kon maak en die lewe daarin geblaas het. Hy het die blinde man en die melaatse man genees asook dooies lewend gemaak deur die toestemming van Allah. Hierdie harmonie in die optrede tussen Allah, Christus en die Heilige Gees is duidelik in die Koran te sien. Waarom rebelleer Moslems steeds teen God en Sy Messias?

In Soera Maryam 19:21 kan ons lees, "Ons maak Hom ‘n teken vir mense en genade vir ons." Dit is altyd verbasend dat Allah in die Koran in die meervoud spreek en Christus as Genade van die Genade Een beskryf. Dit beteken Hy het dieselfde aard as die Goddelike essensie.

‘n Hele paar verwysings in die Ou Testament en die Koran bevestig die eenheid van die Drie-Eenheid. Ons word aangemoedig om saam met die engele God te verheerlik: "Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!" (Jesaja 6:3). Die drievoudige herhaling van “heilig” dui daarop dat die Vader heilig is, die Seun heilig is en dat die Heilige Gees heilig is, en dat hulle een is in algehele heiligheid.


4.03.7 - Die Christelike Geloof oor die Goddelikheid van Christus

Dit is geen oordrywing nie dat die apostels almal oor Christus se Goddelikheid getuig het. Onder doodsdreigement het Paulus openlik verklaar, "[Christus] is die Beeld van die onsienlike God" (Kolossense 1:15). Johannes erken, “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon-en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom-vol van genade en waarheid" (Johannes 1:14). Petrus getuig, "U is die Christus, die Seun van die lewende God" (Matteus 16:16).

Die Sinode van Nicea som die Christelike geloof soos volg in Engels op: "Christ is God of God, light of light, very God of very God, begotten, not made, being of one substance with the Father."

Moslems en Jode beperk die almagtigheid van God met hul rigiede doktrine. Wie kan egter God se openbaring van Homself soos Hy werklik is, verwerp? Wie het die reg om die Almagtige te verhinder om ‘n seun te hê en hom op te offer ter wille van die redding van die wêreld? God is vry! Christus het voor die skepping bestaan en mens geword om die wêreld met God te versoen en hemelse vrede te bewerkstellig. Christus het mens geword sodat die wêreld gered kon word. Hy was sondeloos sodat Hy die sonde van die wêreld kon wegneem. Johannes die Doper verwys na hierdie Goddelike roeping: "Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!" (Johannes 1:29). Gevolglik is ons aangenome kinders en kan ons God ons Vader in die hemel noem en is ons sonde vergewe. Christus het ‘n groot verlossing vir alle mense bewerkstellig, nie net vir Christene nie. Sy verlossing is ook vir Hindoes, Boeddhiste, Jode, Moslems en ateïste. Hy gee die ewige lewe aan almal wat Hom ten volle vertrou en Hom as hul Here en Verlosser aanvaar. Die Seun lei ons na die Vader en die Vader bring ons na die Seun. God het Homself by die doop van Jesus in die Jordaanrivier geopenbaar: "Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het" (Matteus 3:17). Wie kan ‘n stem uit die hemel keer?


4.03.8 - Wat is die Doel van die Eerste Gebod?

Die doel van die eerste gebod is eenvoudig om vir God lief te wees. Moses het hierdie voorreg van die belangrikste gebod soos volg verwoord: "Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag" (Deuteronomium 6:5). Of ons het God lief en leef in harmonie met Sy Gees, of ons haat Hom en leef teen Sy wil. As ons God liefhet, dan dink ons aan Hom, luister na Hom, doen wat Hom behaag en leef vir Hom. Ons smag na Hom soos ‘n bruid na haar bruidegom smag en sy briewe aan haar oor en oor lees. Maar hulle wat aandring op hul trots en hulleself as halfgode sien, draai hul rûe op die ware God en vergeet Sy Woord. In hul hardnekkigheid val hulle uiteindelik onder die oordeel van God.

Wie egter vir Christus liefhet, is oop vir die Gees van God. Hulle ontvang vergifnis van hul sonde en wandel in die krag van die Heilige Gees. Hulle verander na die beeld van hul Vader, want hulle bid dat die naam van die Vader in hul lewens en gesinne geheilig sal word. As ons God werklik liefhet, dan draai ons na Hom en ontvang ons genade op genade. Ons ervaar daagliks die reiniging van ons gewete, leef in vryheid as kinders van God en neem deel aan Sy geestelike bediening. Hulle wat God werklik liefhet werp afgode uit hul lewens en staan vas in die nuwe verbond waarvan die misterie geopenbaar word in die tema van ons geloof en lewe: "God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom" (1 Johannes 4:16).

www.Grace-and-Truth.net

Page last modified on October 10, 2013, at 10:47 AM | powered by PmWiki (pmwiki-2.3.3)